Jasmyn

Jasmyn is geken vir haar klokhelder stem en klassieke aanslag wat duidelik gehoor word in haar debuut album Jy wens jy kon sê.
In Agt Keer Opstaan is haar engelstem met keltiese ondertone steeds die element wat haar as een van die land se mees belowende, opkompende vroulike kunstenaars plaas, maar die goue draadjie is die ligte gevoel wat ervaar word wanneer die album geluister word.

Sy is gebore in die Vrystaat en het op ‘n plaas net buite Oranjeville grootgeword. ‘n Voorreg om as ‘n plaas kind in die natuur te kon groot word. Dit was eers in haar matriek jaar gedurende 2008 wat sy besef het dat sang haar groot passie is, hoewel die gedagte van “entertainment” my baie teruggehou het. Dit het eers vir my verander die dag wat ek my hart aan die Here gegee het einde 2009 en daarna haar sangdrome voluit begin najaag het. Die gedagte van “entertainment” was iets van die verlede en haar nuwe doelwit was om ‘n boodskap oor te dra!

Gedurende 2011 is Jasmyn se debuut CD, Jy wens jy kon sê vrygestel. Daar is 13 liedjies op die album waarvan 7 Afrikaans en 6 Engels is. Dit sluit 7 oorspronklike werke in. Die album wissel van ligte klassieke musiek tot pop, keltiese en kontemporêre musiek. Die Afrika Koor, Impulse en Voices Plus, kore van die Universiteit Johannesburg wat tydens twee van die liedjies optree gee die musiek ‘n dieper dimensie en ryk nuanse van Suid-Afrikaanse kultuur. Te danke aan die ondersteuning van die span, die produksieleier, Johan Heystek, my ouers en MMX Studios was die proses glad nie moeilik nie.

Nie net het Jasmyn in haar opnames saam met groot name in die industrie soos Maurits Lotz en Vinnie Henrico gewerk nie, maar het sy al internasionaal naam gemaak. In 2010 neem sy deel aan Eurovision en wen die titel "Face vs Voice". Tydens Eurovision 2011 in Düsseldorf open sy die funksie, "Song Festival" vir al die deelenemers wat opgetree het.

Terug in Suid-Afrika deel sy die verhoog saam met kunstenaars soos Rina Hugo, Natasha Joubert en Joe Niemand by die Hallelujah Gospel Gala te Carnival City. In Oktober 2011 is Jasmyn deel van die produksie van VAMT – Vonk Afrikaanse Musiek Toekennings waarna sy beskryf is as "die verrassing van die aand."

In 2012 neem Jasmyn Agt Keer Opstaan op en werk saam met vervaardigers Dirk van Niekerk en Johan Kelber. Die album is in September 2012 op die rakke. Dit is ‘n lekker-luister album en kan kers vashou by name soos Taylor Swift en Kelly Clarkson.
Agt Keer Opstaan is ‘n album met ‘n boodskap van bemoediging. Met liedere soos Dance of Life, Kettings Breek en ‘n bekende Footprints in the Sand haal ‘n mens weer asem.

Op 4 September 2012 is Jasmyn se laserskyf Agt keer opstaan vrygestel by die Atterbury Teater in Pretoria. Dit was ‘n lekker ontspannende aand waar tydens Jasmyn haar nuutste werke tentoon gestel het in samewerking met TUT se dansers, ‘n lewendige orkes, ‘n manskoor asook Hoërskool Waterkloof se Trompoppies.
"As jy sewe keer val moet jy agt keer opstaan. Wees sterk en vertel jou verhaal dat jy kan aangaan."
Só lui die koor van Jasmyn se titelsnit van haar album, Agt Keer Opstaan. Dit laat mens die spreekwoord onthou dat dit nie saak maak hoeveel keer jy val nie, maar hoeveel keer jy opstaan.

Jasmyn sê:
"Ek wil graag ook meer van myself en my hart met my gehoor deel, asook my ervaring en storie agter elke lied. Ek is passievol en opgewonde oor die taal van lirieke en melodie. Ek glo musiek is die taal wat almal verstaan. My droom is dat my musiek vir iemand ‘n lig sal wees, en om die hart en siel diep aan te raak deur nuwe hoop, opwinding en liefde te gee. Musiek het ‘n geweldige invloed op die mens! Die Mens het ook ‘n soeke na inspirasie, hoop, liefde, opwinding en soveel meer.. Ek beoog om die kombinasie van musiek met voedende lirieke aan mense te bied met die hoop daarop dat die persoon ‘n bietjie dieper sal nadink oor die lewe. Dit maak my opgewonde en gelukkig om nuwe insigte te kry oor die “eintlike waarheid ” van die lewe, en dit met almal om my te kan deel! Die dag toe my oë oopgegaan het vir die waarheid, was die dag wat my groot geluk begin het. ‘n Absolute hoogtepunt in my lewe was om die land Israel in 2010 te besoek. Dit was geestelik baie verrykend , en dit het ‘n besondere waarde vir my in gehad om te kon stap waar Jesus gestap het, en te wees waar Hy was."

Iets ie oor Jamsyn: Sy is ‘n meisie wat graag mooi wil aantrek met juweliersware en serpe (sy verkies die winter omdat sy dan serpe kan dra) Sy sê indien sy nie die vermaaklikheidswêreld betree het nie sou sy dalk graag ‘n dieetkundige wou word. Sy stel baie belang in ‘n gesonde leefstyl en om te weet watter spesifieke uitwerking voedsel op die liggaam het.

Details: Stuur ‘n e-pos na info [at] jasmyn.za.net

Bron:

http://www.jasmyn.za.net/biografie.html

(2014-02-04)

Deel je mening

Dit formulier wordt beschermd door reCAPTCHA en de Google Privacy Policy en Servicevoorwaarden zijn daarbij van toepassing.

0 Reacties gevonden