Benice Borman

Benice Borman was net vyf jaar oud met twee blonde poniesterte toe sy haar heel eerste lied voor mense gesing het. Nie lank daarna nie, het sy sommer die mikrofoon gegryp en is deur haar pa, Hennie de Bruyn van Die Kitaarkêrels, op kitaar begelei. "Ek glo dit is ‘n ingebore passie om te sing. My ouers het altyd gespog dat ek met ‘n mikrofoon in my hand gebore is. Soos wat ek ouer geword het, het ek besef dat musiek regtig my passie is en dat ek dit met almal wil deel."

Die afgelope twaalf jaar het dié stylvolle sangeres gospelalbums opgeneem wat mense landwyd diep raak. Haar jongste, Here praat met my, is gevul met "hoop, liefde en die boodskap dat elke persoon spesiaal is vir ons Vader en dat Hy net die beste vir ons wil hê".

"Elke lied op hierdie album is ‘n hart-liedjie. Dit praat met jou en het ‘n boodskap vir elke persoon. Daar is ‘n storie agter elke lied en so kan mense ook hul eie lewe en omstandighede daarmee assosieer," vertel Benice wat in Brakpan in Johannesburg saam met haar man, Sias, en twee dogters, Kayla en Denike, woon.

Benice se man, Sias, skryf die meeste van haar liedjies. "Dit is eintlik so maklik, want al sy liedjies is trefferliedjies. Ons kies gewoonlik die liedjies saam en dan besluit Deon van der Merwe (haar produksieleier en uitvoerende regisseur) ook wat by my styl en stem sal pas."

Voorste musikante soos Denny Lalouette (baskitaar), Deon van der Merwe (kitaar) en Vinnie Henrico (tromme) het die album saam met Benice opgeneem, terwyl Ronéll Erasmus en Hannalie Burger die agtergrondstemme verskaf het. "My musiek is lekkerluister-musiek. Dit is vir oud en jonk. Daar is rustige musiek en ook lekker saamsing-liedjies."

Benice se droom is om mettertyd voltyds te kan sing. Beide sy en Sias werk nog voltyds deur die week, maar tree naweke regoor Suid-Afrika op. "Ek werk hard om ook my droom voltyds te kan uitleef."

Sy het al ophou tel hoeveel CD’s sy in die meer as ‘n dekade in die musiekbedryf uitgereik het. Maar haar belangrikste les, tot dusver, was om nederig te bly "met jou voete op die grond, want dit is net genade wat maak dat ek is waar ek vandag is".

Here praat met my is ‘n album boordensvol met geestelike inspirasie en Benice se gestroopte, dog tintelende sangstem.

www.benice.co.za

Benice Borman

Share your thoughts

This form is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.

0 Comments found