Tygerberg Children's Choir

Geskiedenis

Die inisiatief vir die stigting van die koor in 1972 is geneem deur dr. Etienne Smit, destydse hoof van die Hoërskool D.F. Malan en voorsitter van die Tygerberg Eisteddfod.

Die koor bestaan uit tussen 70 en 76 koorlede (seuns en meisies) tussen die ouderdomme 10 en 14 jaar. Oudisies vir die koor vind jaarliks gedurende Mei en Junie plaas. Nominasies word deur die koorleiers van skole gedoen, en ouers is ook welkom om te nomineer. Die lede verlaat die koor aan die einde van hulle graad 8-jaar.

Ambassadeurs in harmonie

Sedert sy stigting het die koor vir hom die naam AMBASSADEURS IN HARMONIE opgebou. Jaarliks word daar binnelands getoer en sedert 1980 is ook twaalf buitelandse toere onderneem en aan sewe internasionale koorkompetisies deelgeneem. In ses van die kompetisies het die koor met die louere weggestap. In Tolosa in Spanja (November 2001) het die Koor 'n tweede plek behaal in die kinderkoorafdeling wat uit ses vorige wenners bestaan het. In Stuttgart (1993) het die koor deelgeneem aan die SA Kultuurweek tydens die Internasionale Tuinboutentoonstelling. In Detmold, Duitsland (1997) en Basel, Switzerland (1998) was hy die gaskoor by musiekfeeste. In Maart 2001 is die Koor, na streng keuring, toegelaat om saam met drie ander prominente kinderkore deel te neem aan SongBridge 2001. Laasgenoemde het deel gevorm van 'n massa feesviering van vyftig kinderkore by die World of Children's Choirs in Vancouver.

In September 2002 is die Koor genooi om by die Lutherse Kerk se 6de jaarlikse konvensie oor kerkmusiek in Malmö, Swede, op te tree. Die koor is ook genooi om kerskonserte saam met die Deense Radio dogterskoor aan te bied.

In Julie 2004 word die Koor genooi na Debrecen, Hongarye, om deel; te neem aan die Béla Bartók 21ste Internasionale Koorkompetisie. Hulle wen die Kinderkoorkategorie , en deel die eerste prys met die Vesna Kinderkoor uit Moskou. Albei kore behaal 91,2% in die finale rondte, en kwalifiseer sodoende vir die Grand Prix-kompetisie. Die Koor verwerf ook twee spesiale pryse - een vir die beste interpretasie van 'n Béla Bartók-komposisie, en een vir die publiek se keuse as die beste koor by die kompetisie. Die Koor ontvang ook 'n diploma in die volksmusiek-kategorie.

Onlangse toekennings sluit in: Uitstaande bydrae as gemeenskapsleiers toegeken deur die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI) in September 2004. In Oktober 2004 ontvang hulle 'n toekenning as Uitstaande Kinderkoor en Koordirigent (Hendrik Loock) van die Suid-Afrikaanse Koorvereniging. En in November 2004 ontvang die Koor 'n toekenning vir uitstaande nasionale en internasionale prestasie van die Wes- Kaapse Departement van Kultuursake en Sport by hul Kuns, Kultuur- en Erfenistoekennings.

In 2005 ontvang Hendrik en Theresa Loock 'n toekenning van die Wes- Kaapse tak van die ATKV as Afrikone vir hul bydrae tot koorsang oor soveel jare.

Die Koor, met Louis Loock as gaskunstenaar, ontvang die gesogte Kannatoekenning by die KKNK as die Beste Klassieke Musiekproduksie by die fees.

In Julie 2006 word die Koor by die International Music Eisteddfod in Langollen, Wallis bekroon met die 1ste plek in die Folklore-afdeling teen heelwat ouer kore. Hulle behaal ook 'n 3de plek in die Senior Kinderkoor-afdeling, weer eens teen heelwat ouer kore.

In 2007 neem die Koor deel aan Die Burger se Kerskonsert in die Kunstekaap. Die Koor vier ook sy 35ste reünie in Kaapstad Stadsaal in een van die Koor se heel beste konserte tot op datum. Hierdie konsert word wyd beskou as 'n absolute kragtoer.

Hoogtepunte in 2008 sluit in 'n optrede by die State of the Nation Staatsbanket by die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum voor 'n uitgelese gehoor bestaande uit o.a Pres. Thabo Mbeki, Burgemeester Helen Zille en vele ander parlementêre hoogeplaastes. Die Koor wen ook die Kinderkore-afdeling van die heel eerste ATKV Animato-kompetisie.

Benewens 'n toer na Italië, neem die Koor ook in Julie 2008 deel aan die Wêreld-koorspele in Graz, Oostenryk, waar hulle 'n tweede plek behaal in die afdeling vir Kinderkore en 'n goue medalje, asook 'n verdere twee goue medaljes in die Musica Sacra en Gospel & Spiritual-afdelings.

Die koor is as Wêreldkampioene bekroon by die 6de Wêreldkoorspele in Shaoxing, China in Julie 2010. Hulle het beide die Geestelike Musiek en Volksmusiekafdelings ope-afdelings gewen, weer eens teen heelwat ouer kore. Dit is die eerste keer in die koor se 38-jarige bestaan dat hy twee afdelings in dieselfde kompetisie wen.

In 2011 is die koor genomineer vir 'n Kanna-toekenning vir die beste produksie by die KKNK.

Sedert 2008 neem Tygerberg-kinderkoor elke tweede jaar deel aan die voorste koorkompetisie in die wêreld vandag, die Wêreldkorespele, in onder andere Oostenryk, China en die VSA. Slegs die beste internasionale kore word genooi om deel te neem. Benewens die feit dat Tygerberg Kinderkoor talle goue medaljes verower het, is hy in 2010 in Shaoxing, China as wêreldkampioen bekroon in beide die Volks- en Geestelike musiekafdelings. Dis die eerste keer sedert die koor se ontstaan dat hy twee afdelings in dieselfde kompetisie wen. Die feit dat die koorlede almal tussen 10 en 14 jaar oud is, en dat hierdie prestasie teen soveel ouer kore behaal is, maak dit soveel meer merkwaardig.

Tygerberg Kinderkoor was nie alleen bekroon as Suid-Afrika se voorste kinderkoor tydens die ATKV Animato Koorkompetisie in 2012 nie, maar het alle afdelings waarvoor hul ingeskryf het gewen en het as algehele wenners met die louere weggestap.

Die Koor was bevoorreg om op te tree voor verskeie staatshoofde, o.a. Pous Johannes Paulus II, Koningin Elizabeth II, Koning Gustav van Swede, President Bill Clinton en die vorige president van Suid-Afrika, Nelson Mandela. Hy het ook opgetree by die inhuldiging van mnr. Thabo Mbeki as huidige president van Suid-Afrika en voor prinses Alexandra van Denemarke. In April 2009 word die koor genooi om voor Sy Koninklike Hoogheid, Prins Edward, op te tree.

Deur sy musiek wil die koor graag uitreik, opvoed en bemoedig. Dit is dan ook in dié gees dat sy oorsese toer in 1997 opgedra was aan die Nelson Mandela Kinderfonds. R56 000.00 is vir dié doel ingesamel. Suid-Afrikaanse Ambassadeurs van daardie jaar, naamlik Joubert (België), Khubeka (Denemarke) en Niehaus (Nederland) het die ambassadeursrol van die kinders oor grense heen beklemtoon.

In die media is die Koor beskryf as 'n "Voortreflike uitvoerproduk". Vooraanstaande musiekresensente, o.a. Dirkie de Villiers, Paul Boekkooi, Louis Heyneman, Frikkie Strydom, Stefans Grové, Anthea Johnston, Justin Pearce, Mary-Ann van Rensburg en Ivan Merideth het die koor geloof vir sy musikale dissipline en betrokkenheid, suiwer stemproduksie, goeie intonasie, uniformiteit van klank, sensitiewe frasering, tegniese vaardigheid en dinamiese kontraste. "The Tygerberg Children's Choir performed with the finesse of a professional musical group." Lloyd Dykk - Vancouver Sun (March 2001)

Die Koor word van tyd tot tyd oor die radio gehoor. Televisieoptredes van die koor sluit in "Om te wen in Wenen", 'n dokumentêr oor die koor, "The Magic of Christmas" vir KRUIK en insetsels vir die kinderprogram K-TV en "Die Kaap om Ses". Meer onlangs is een van die Koor se voortreflike Kerskonserte op KykNet uitgesaai.

Die koor het ook al die verhoog gedeel met gevierde Suid-Afrikaanse musici, o.a. Kammersängerin Mimi Coertse, Aviva Pelham, Manuel Escorcio, De Wet van Rooyen, die KRUIK-orkes in die opera Hansie en Grietjie o.l.v. Christopher Dowdeswell. Gerard Korsten het die Koor gedirigeer in "Does the noise in my Head" van Hans Roosenschoon.

Suid-Afrikaanse komponiste het ook werke spesiaal vir die Koor geskryf, o.a. Lux Eterna uit die Jeugrequiem (Pieter Louis van Dyk), Driesiemandôrie (Pieter de Villiers), Kô lat ons sing, Magnificat, Caritas en Sky (Hans Roosenschoon) en Tygerberg Messe (Johan Cloete).

Vir SongBridge 2001 (Kanada) het Hendrik Hofmeyr 'n opdragwerk Tu Pauperum Refugium geskryf. Dit is 'n werk vir gelyke stemme en dubbelkoor. In opdrag van Erkki Pohjola is die drie ander kore van SongBridge 2001, nl. Newfoundland Simfonie Jeugkoor van Kanada, Odawara Kinderkoor van Japan en die Moran koor van Israel asook die gehoor betrek in hierdie uitvoering. Die werk is ongeveer 10 minute lank en die komponis het die karakter daarvan versterk met liggaamsbewegings en tonggeluide. Hy het ook verkies dat die ander kore in die ouditorium geplaas word sodat die kerngedagte van vrede deur die hele ouditorium eggo in kontras met die koraalagtige idee van die res van die werk.

Wêreldberoemde dirigente soos Eric Ericson (Swede), Erkki Pohjola (Finland), Roy Wales (Engeland), Michael Bojesen (Denemarke) en Kare Hanken (Noorweë) het die koor reeds gehoor of in meesterklasse gebruik en hom lof toegeswaai vir die voortreflike wyse waarop hy musiseer.

Tygerberg Kinderkoor is ook die tuiste van die uitmuntende vokale groep, The Voice of Angels, wat die land aan die gons het sedert die verskyning van hul eerste CD in Julie 2008.

Bron: http://tcc.co.za/afr/meer-oor-ons.html (9 Junie 2020)

Deel je mening

Dit formulier wordt beschermd door reCAPTCHA en de Google Privacy Policy en Servicevoorwaarden zijn daarbij van toepassing.

0 Reacties gevonden