Biography for Angel De Lange
Country-rock het min so goed geklink (en gelyk) soos deur die mond van Angel De Lange - 'n jong sangsensasie wat sonder twyfel bestem is om groot opslae in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf te maak!
Haar ervaring op verkeie verhoë, beide plaaslik en oorsee, maak van haar 'n veelsydige kunstenaar wat 'n verskeidenheid gehore met haar "Husky" stem bekoor.
Angel is in 1992 in Delmas gebore en die musiekvuur het reeds op 3 jarige ouderdom in haar hart begin brand, toe sy haar ma - toe 'n orrelis by die Ou Apostolies kerk in Ogies - gesmeek het om aan die kerk se sangkompetisie deel te neem met "Die brood en die bord", wat op daardie tydstip haar gunstelling liedjie was.
Hiermee saam was kassette van legendes soos Bles Bridges, Anneli van Rooyen, Bonnie Tyler, Johnny Cash en Dolly Parton - wat vir haar 'n groot ikoon is - haar stapelvoedsel.
Dit was met die intrapslag duidelik dat sy 'n besonderse talent en verhoogpersoonlikheid gehad het - iets waaraan sy deurgaans, tot na haar hoërskooljare aan die Hoërskool Dr. E.G. Jansen, aanhou slyp het deur aan elke sangkompetisie wat sy kon deel te neem en elke geleentheid vir 'n verhoogoptrede aan te gryp.
Na skool het Angel se pad in kantoorwerk, verkope en paramedici gaan draai, maar die verhoog het aanhou roep. In 2012 het sy vir 'n tydperk van 9 maande op kontrak in Qatar, saam met 'n 8 stuk orkes opgetree, waarna sy na Newcastle in die Verenigde Koninkryk verhuis het om vir 'n verdere 3 maande daar uitvoerings te lewer.
Terug op eie bodem het haar paaie gekruis met bekende sanger, wyle Fredi Nest, wat potensiaal in Angel raak gesien het en volstoom saam met haar begin werk het aan sy eie album "Tribute to John Denver", sowel as 'n duet-album wat in 2015 vrygestel sou word.
Fredi is ongelukkig kort daarna aan kanker oorlede en die emosionele impak daarvan het Angel se motivering tot 'n baie diep laagtepunt sien daal, maar sy het voet by stuk gehou dat sy sou volhou met optredes en opnames.
Angel het ook gaan draai op die Krone verhoog in 2018 as nuweling van die jaar, en saam bekende kunstenaars soos Ricus Nel, Elandre, Juanita Du Plessis, Nadine, Joe Black en vele meer die verhoog gedeel.
Angel het onlangs by die toonaangewende platemaatskappy, Select Musiek, aangesluit en haar blinknuwe album "Vat my terug", is tans op die rakke en alle digitale platforms beskikbaar. Liedjieskrywers soos Rudi Claase, Manie Jackson en ook Angel self het penne ingespan vir 'n diverse, aansteeklike aanbieding van country gemeng met kontemporêre, Afrikaanse en voetstamp lekker sokkie musiek!
Angel en Rudi Claase het ook in 2019 kragte bymekaar gesit met 'n produksie genaamd Country koors. Wat oorspronklik net 1 vertoning sou wees, maar met groot belangstelling en navraag, na 12 vertonings gelei het.
Sy is iemand wat diep geanker is in haar geloof en familie, en gestel is daarop om die lewens van diegene waarmee sy te doen kry op te helder. Hoewel sy haar voete baie stewig en plat op die aarde geplant het, droom en doen sy groot en is sy 'n ekstrovert en adrenalienvraat in die oortreffende trap.
Sy is 'n meisie wat haar ding kan doen op 'n verhoog en duisende op hul voete kan hê, maar 'n "plain Jane" wat altyd 'n tydjie sal maak vir 'n besoek aan die plaas of bosveld, veral vir rustige tye langs 'n kampvuur, in goeie geselskap en met hope biltong om aan te peusel!